My Katedraal van Hoop op ‘n hopelose reis

Daar is ‘n sêding wat al êrens by ons almal ’n draai gemaak het. Dit sê: Die lewe is ’n reis, geniet die rit.

71477213_10212340939557861_7332381606683869184_n

My reis hierdie jaar het baie onderstebo begin. Ek het kort-kort half verdrink soos wanneer jy deur een van Jeffreysbaai se groot branders getuimeldroog word. Soms wou my longe bars van te min asem. Die grootste klip wat my afgetrek het in die kuil van verdrinking was die dood van my pa. Toe dié klip in my water beland, kom hak ’n klomp ander goed daaraan wat die klip wat my aftrek net nog swaarder maak en my asem nog minder.

C.S. Lewis het gesê: No one ever told me that grief felt so much like fear. I am not afraid, but the sensation is like being afraid.

En hierdie klip, en veral die aanhangsels, het my magteloos en hopeloos begin maak. So sukkel ek ook om my gedagtes en gevoelens te verbaliseer en onttrek myself veral van Abba omdat die hopeloosheid my versmoor en dit my so teleurgesteld maak in Hom. Baie dae kon ek net soos ’n gewonde, uitgespoelde jellievis by Sy voete lê. Net wanneer ek dink die tuimeldroogsessie kom nou tot ’n einde en ek herwin die vermoë om ver in die wapad ’n flou liggie te sien, kom stel iemand die tuimeldroogsiklus terug na die begin toe en nog ’n gewig hak aan die klip wat toe al ’n rots geword het. ’n Tuimeldroogsiklus het mos ’n deel wat warm word. So, behalwe dat jy sukkel om asem te kry bo die branders, raak dit ook warm en ongemaklik. As jy nie asem het nie en ook nie weet of jy nou bo of onder is nie, en jy baklei net om klein slukkies asem te kry tussen die warm branders – is dit onmoontlik om enigsins rigting te sien. Jy sukkel ook om ander te help in hierdie toestand. Jy voel onder die branders hoe ander wat ook getuimeldroog word, jou vasgryp asof jy die enigste anker onder hierdie diep waters is, maar jy het nie die vermoë om jouself te help nie, wat nog om ander te probeer red. En dit was juis hierdie onvermoë om iets te beteken wat my mantel (roeping), wat Abba vir my lewensreis omgehang het, stukkie-vir-stukkie kom opskeur het. Wanneer ek in die spieël gekyk het en die weerkaatsing van die oorblyfsels van my verflenterde mantel gewaar, het die hopeloosheid my verder in die draaikolk van verdrinking ingetrek.

Maar wat ek nie geweet het nie, is dat ek vreugde en vrede in hierdie brander-tuimeldroogseisoen sou ontdek wat my menslike verstand te bowe sou gaan. Die realiteit sou my mantel uitmekaar pluk, maar ek sou in die proses besef dat my mantel slegs ’n goedkoop naamsaaksel is van ware hoop. Hoop het my ontmoet in plekke waar ek dit die minste verwag het – plekke wat nie my keuse was vir ’n reisbestemming nie.

71030587_10212340930797642_7447028336947101696_n

Dit het my baie laat dink aan waar ons vandaan kom. Waar ons vandaan kom, is nie een plek op ’n kaart nie. Waar ons vandaan kom, is konstellasies van drome en plekke en sterre. Waar ons vandaan kom, is meer as lande – ons kom uit storiereise. Ons kom uit narratiewe van hoop en biografieë, van moed. Ons is meer as die lande waarvandaan ons kom en die tale wat ons praat. Ons kom almal uit velde van drome. So word elke droom, elke storie, gebore op ons reis na verre plekke. Nie verre plekke wat ons altyd fisies besoek nie, maar verre plekke waarheen ons in liggaam, siel én gees dwaal.

71401764_10212340931597662_3133458236213035008_n

69289161_10212340939197852_3714426702722498560_n

In my brander-tuimdroogseisoen begin ek bid soos Jakob: Here ek gaan U nie laat gaan voordat U my nie seën nie!

So reis ek na Uganda deur ’n boek wat ek lees. Daring to Hope. Ek het die dag in CUM-boeke geloop en die boek op die rak gesien. Ek het die outeur se eerste boek gelees, en uit ervaring voel ek gewoonlik dat die tweede boek nooit weer so goed soos die eerste boek is nie. En omdat dit vir my moeilik was om enigsins iets in te neem in my oorlewingsstryd tydens die brander-tuimeldroogseisoen, wik en weeg ek eers of ek die boek moet koop. Die boek het dan ook maande langs my bed gelê – onoopgemaak. Totdat ek die moed bymekaar gemaak het om die eerste bladsy te lees.

I did not find all the answers to my questions. In fact, I might have more questions now than I did before. But I have found deep intimacy with the One who formed me and knows my heart. He has taught me His secrets in the darkness. He has taught me true and unwavering hope in Him.” Katie Davis Majors, Daring to Hope

Katie kom leer vir my dat God my raaksien veral wanneer die einde van my storie nie is soos dit waaroor ek gedroom het nie. Wanneer my gebede onbeantwoord bly en alles voel na ’n gemors. Die antwoord altyd nee bly. Hy wil hierdie brander-tuimeldroogplek van my benoem: God Sal Voorsien. Ons almal swem van tyd tot tyd in Jeffreysbaai se groot branders. Ons almal word van tyd tot tyd deur die branders getuimeldroog – ons almal stoei van tyd tot tyd met God. En Abba hoor dat ek nie gaan los voordat Hy my gaan seën nie en ek reis na God Sal Voorsien.

70696564_10212340940277879_1888447092272136192_n

Ek vlug van my eie kwesbaarheid en probeer wegkruip van my onvermoë omdat my mantel verskeur is – maar ek besef dat dit presies is waar Abba my wil hê. Hierdie bestemming is so kosbaar en mooi vir Hom. My onvermoë om myself én die hande te vul van dié wat onder die water na my gryp, plaas my in ’n plek van nood. En my nood is vir vir Jesus mooi. Dit is wat Hy wil hê, want dan kan God Voorsien en nie ek nie.

Henri Howen skryf:

[Compassion] is not a bending toward the underprivileged from a privileged position; it is not a reaching out from on high to those who are less fortunate below; it is not a gesture of sympathy of pity for those who fail to make it in the upward pull. On the contrary, compassion means going directly to those people and places where suffering is most acute and building a home there.

Op my reis kyk ek dikwels rond en sien veral dié onvermoë in my lewe raak. Dit lyk asof daar niks langs my pad groei nie. Planne en drome is dood en verdor, drome verwoes. Fluit-fluit my storie is uit. Dit word toe maklik om die leuen te glo dat my reis eintlik verby is en dat God miskien klaar aan my storiereis gewerk het en my nou nutteloos langs die pad gelos het. En ek vra: hoe kan ek glo dat God wat Jesus uit die donker graf laat opstaan het en ook groen lote uit die harde aarde voorbring, skoonheid sal bring uit onvrugbare seisoene? Die Waarheid is dat daardie onvrugbare pad ryp is van geleentheid en moontlikheid. Daar honderde sade langs my pad lê wat gereed is om ’n maag te vul of om weer te groei en te vermeerder.

71094036_10212340940797892_8600649375762350080_n

Dit is wat ek moes leer, al het ek nie altyd die woorde gehad om dit te verbaliseer nie:

Wanneer ek altyd honger is na Hom, sal selfs die brander-tuimeldroogplekke my voed; selfs om te rou sal vir my ’n pad wees na vreugde; selfs bitter episodes sal soet wees; selfs in die donker sal ek Sy gesig sien, want wanneer ons na Hom soek, sal ons om altyd sien.

Heb. 11:1 sê nie verniet nie: Geloof is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Kan God dan iets goed laat voortspruit uit ’n dooie storiereis – is dit hoop?

My oë draai toe al hoe meer na my verflenterde mantel en ek begin glo dat my tyd vir droom verby is. Ek het so baie met die Dood te doen in hierdie seisoen dat ek soos Dood begin ruik en al my hoop verloor. Ek onthou toe eendag van die aasdiere langs my reis en wonder of dit nie Abba was wat my probeer waarsku het van al die goed wat my mantel gaan skeur soos Josef se droommantel ook verskeur is nie? Eers was dit my ontmoeting met die meer as vyftig aasvoëls. Dan die dooie uil langs ons fietspaadjie. Ook die swart hond wat weke lank doodlê langs die pad.

Dit is eers wanneer ek een oggend my Bybel oopmaak en die woorde van Luk. 21:34 my soos ’n pyl tref dat ek besef dat hierdie brander-tuimeldroogseisoen ’n naam het:

But be on guard, so that your hearts are not weighed down and depressed with the giddiness of debauchery and the nausea of self-indulgence and the worldly worries of life, and then that day [when the Messiah returns] will not come on you suddenly like a trap.

Miskien was jy ook al so verdwaal op jou reis dat jy ook hoop verloor het. Maar die Woord sê in Jes. 60:1:

Arise [from spiritual depression to a new life], shine [be radiant with the glory and brilliance of the Lord]; for your light has come. And the glory and brilliance of the Lord has risen upon you.

Ons reis Duitland toe om ’n voordrag te lewer by ’n akademiese konferensie. Die organiseerders stuur vir my die program van die konferensie en ek sien ek is deelnemer 911. Eers het ek nie baie gedink oor die bekende nommer en waarvoor dit staan nie. Maar op ’n dag open Heilige Gees my geesoë en onthou ek dat lewens gered word deur 911 te skakel. Toe hoor ek die Here sê, hierdie reis na Europa is my 911 – ’n rooi tou soos vir Ragab (Jesus se bloedaar). Hy is nog nie klaar met my storiereis nie. Ons kuier na ons werksessie in Brugge, België en dit is eers later wat ek besef dat Abba fyn kan beplan. Hy het toe baie brûe kom bou sodat ek oor die afgronde op my reis kan loop.

71578788_10212340929317605_868015257048580096_n

71001569_10212340927677564_8374902231077486592_n

Ek hinke pinke nog na hierdie Hoop wat Hy vir my deur die 911-tou aangegee het, maar ek besluit om my verflenterde mantel weer uit te haal en om te hang. Ek word ‘n gevangene van Hoop!

IMGP7368

Ek klim uit die vliegtuig met die gebed: Here ek klou nou naarstigtelik aan hierdie 911-tou wat U vir my uitgegooi het. Ek wil altyd hierdie Hoop in my hart en in my lewe hê. Ek kan nou nie meer daarsonder nie. Ek klou vas aan U Hoop. Onder my ander arm is my verflenterde mantel. Ek kyk op en voor my sien ek hoe my man sy rugsak oor sy moeë skouer gooi in die gloed van die rooi lig van die sonsopkoms op OR Thambo lughawe. ‘n Nuwe dag breek. En ek vat Ragab se rooi 911-tou en begin om my mantel weer stekie-vir-stekie aanmekaar te werk.

2 Comments

  1. Vdin, ek sit nou verstom hier met trane wat oor my wange stroom.
    Corne, hoe goed is God en Sy werke so amazing. Ek is so selde op fb maar vanogg stop en lees ek hierdie.
    Nog voor my oë oop is vanogg herinner God my aan my rooi lint van Ragab. Ek vertrek Sat Duitsland toe. Dit het begin toe Karli nog klein was en ek ver weg gaan, bv kuier by broer in London. God het vir my die deel van Ragab gegee, haar rooi tou was die teken van haar beskerming. So ht dit n gebruik geword ,as ek lank of ver weg gaan, bind ek my rooi lint in die kamervenster. En nou lees ek van jou Ragab en jou roou tou en jou Duitsland. 😭😭 dankie vir, ek print dit nou en vat dit saam Duitsland toe.
    Ek staan verstom hoe fyn ingeweef vriendskappe, ordained by God, kan wees.
    Hoe fantasties sal dit wees om jou te sien. Ons bly mos al amper 5 jaar in PE, stuur asb jou nr.
    Vdin, hierdie was so uit God se hand vir my vanogg. Dankie vir jou gehoorsaamheid, dankie vir jou dapper vashou en dankie dat jy kies om Sy stem te hoor bo die getuimel en raas van die branders.
    Liefde, groete Shani

    Like

    1. Liewe Shani
      Die Woord sê in Romiene 10: Hoe lieflik is die voetstappe van hulle wat die Goeie Boodskap bring, maar dis nie almal wat dit glo nie…
      Jy kom seën my so met jou getuienis, want dit vat baie moed om gehoorsaam te wees en stukkies van my Allerheiligste met die hele wêreld daarbuite te deel, want enigeen kan met moddervoete op heilige grond kom trap. Maar my gebed is altyd: Here as my katedraal (my Allerheilige encounter met God) vir een persoon iets kan beteken, dan is dit die moeite werd!
      Jy gee met jou getuienis vir my weer moed om aan te hou stukkies van my katedraal met ander te deel sodat ek dié kan bemoedig wat die Goeie Stryd stry en dalk moedeloos raak langs die pad. Ek weet wat dit vir my beteken as Heilige Gees iets kom bevestig wat Hy met my in my binnekamer kom deel het deur na iemand anders se storie te luister.
      Dit laat my ook dink aan Openbaring 12:11
      En hulle het Hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.
      Ons moet daarom eintlik getuig… sodat ons kan oorwin.
      Lekker kuier in Duitsland en mag jy terugkom met ‘n wonderlike getuienis.
      Liefde.

      Like

Lewer kommentaar