Sy katedraal in my omstandighede

Vir lang tye hierdie jaar beleef ek wat dit is om te wag. Vir my is dit nogal ’n skok op my sisteem omdat ek vir jare besig was met ’n navorsingsvraag. My gedagtes was dag en nag daarmee besig en het ek die hele tyd woorde gebruik om sin van die probleem te maak wat ek aan die ondersoek was. Nou wag ek nie net nie, maar wag ek sonder woorde, in doodse stilte en sonder ’n plan om Sy katedraal te bou – dit is alleen die sleurgang van daaglikse roetine. Daar is dae wat ek opspring en probeer om iets te laat gebeur, iets wat werklik Sy heilige katedraal sal oprig. En natuurlik moet ek in skaamte herken, sodat ek kan voel ék maak ’n verskil. Maar elke keer kom stol die WAG my weer in my voortvarendheid. In die proses begin ek myself onttrek  in ’n groter ruimte van magtelose “niks doen” en raak ek nog stommer.

imgp3491

Vanogged lees ek Grace P. Cho se woorde:

He whispered to my soul that fallow seasons aren’t meant for hurry. They’re meant to undo the hardwired muscle memory of labour, to reorient our bodies, minds, and souls to the unrushed pace of God. They’re meant to teach us to dance to the unforced rhythms of grace.

Fallow seasons are meant to bring life in a way it hadn’t been before. They aren’t seasons of death though it may look like it on the surface for a moment. Instead, they are the transition period between death and new life, between ashes and beauty.

Haar woorde kom smelt langsamerhand in my gees soos ’n harde suiglekker. Ek lees dit oor en oor totdat ek dit later soos ’n gedig vir myself kan opsê.

IMGP1157

Ons stilkind het matriekeksamen geskryf in 2017. Hy kom deur, maar sy punte laat hom nie toe om universiteit toe te gaan nie. Ek, veral, het al die pad gestap en kan met ‘n oop hart getuig dat dit glad nie vir my saak maak nie, want Abba het oor Hom gedroom lank voor die grondlegging van die aarde. As dit die pad is wat hy moet stap, is dit reg. Punt. Niemand sal my anders oortuig nie. In die oë van die Here lyk en ruik sukses heeltemal anders as vir die wêreld. In sy onsekerheid besluit Stilkind self dat hy tog sy punte wil verbeter en doen ons aansoek tot die aanvullende eksamen. Ons bid:

Here maak asseblief die deure wawyd oop wat moet oop wees, maar hou ook asseblief die deure styftoe wat moet toe wees.

Die eerste wonderwerk gebeur. Alhoewel jy matriek moet druip om te kan kwalifiseer vir die aanvullende eksamen laat hulle hom toe. Hy werk hard. Regtig hard. Hy sit alles in hierdie laaste kans om sy punte te verbeter. In Februarie gaan skryf hy eksamen. Die stryd het egter nie daar opgehou nie. Ons baklei nou nog om sy punte te kry…

Tydens hierdie WAG is ek so bewus van die feit dat ons in ’n stukkende wêreld bly en my magteloosheid om iets daaraan te kan doen.

IMGP3561

By die koshuis waar ons koshuisouers is, word die nuwe huiskomitee verkies. Dit is veral tydens die onderhoude dat ek besef hoe stukkend die mensdom is. Ek moet myself telke male vermaan om nie op te spring en soos ’n spietkop my hand in die lug te steek en die verkeer te stuit nie. Ek wil gil: Hou op! Hou net asseblief op! Die woorde wat uit die jongmense se harte val laat my verskrik regop sit. Weet hulle dan nie dat hulle baie meer verantwoordelik met hulle dade en woorde moet omgaan nie? Dat elke daad en woord, saad is wat een of ander tyd gaan ontkiem nie? Dalk eers in hulle agterkleinkinders se lewens en dan sal niemand weet waar die vrugte vandaan kom nie. Wat het geword van die vrees vir die Here?

Ek besef weer wanneer jy stukkend is en jou omstandighede is stukkend en onvolmaak, gryp jy na reddingsboeie. En heel dikwels is die reddingsboeie dit wat die wêreld na ons toe uitgooi en gryp ons daarna omdat dit al is wat ons ken. Ons gryp na aanvaarding by mense. Ons gryp na populariteit, besittings, genot (2 Tim 3:1-5), en sukses soos die wêreld alleen sukses defineer. In die proses trap ons mekaar verder stukkend.

IMGP3574

Deur al die gebeure beleef ek dat ek nie ’n slagoffer van omstandighede is nie. Dit is mos nie ’n gewone man wat my teen my berge opdra nie. Sy lig is altyd voor my en agter my. Daarom wil ek saam met Kristene DiMarco sing vir my kind en die kinders in die koshuis en almal om my wat stukkend is:

Ek is bedek met die krag van liefde. Ek is bedek met my Verlosser se bloed. Ek is nie ’n weeskind nie. Ek is nie arm nie. Sy koninkryk het nou my eie geword. By die Koning het ek ’n tuiste gevind. Hy verkwik nie net nie. Hy herstel nie net nie. Daar is groter dinge vir my instoor. Hy is my Pa. Ek wonder nie of sy planne vir my goed is nie, of Hy vir my sal deurkom soos Hy veronderstel is nie, want Hy IS voorsiening en GENOEG wysheid om my in my helderste dae te lei sodat ek my rouklere kan uittrek en my lofprysingklere kan aantrek. Ek is wie Hy sê ek is. Hy is wie Hy sê Hy is. Ek word gedefinieer deur al Sy beloftes. Ek word gevorm deur elke woord wat Hy spreek.

 

Wanneer die lewe gebeur en jy voel oorweldig, kom net vir ’n oomblik tot stilstand en glo Hy sal jou nooit laat val nie. Wanneer die histerie in jou keel opstoot en jy die stormwater en golwe rondom jou bekyk, kyk op na die hemel en weet Hy sal jou nie miskyk nie. Moenie bang wees nie. As ek dit nog harder kon sê sou ek dit graag met al die lug in my longe wou skree. Hy sê:

Kom Ek wys vir jou wat Ek sien. Jy kan nie te groot droom vir my nie. So staan op en begin stap, want Ek en jy het goed wat gedoen moet word vandag. Wanneer die vrae in jou gemoed afgevuur word, onthou alles wat Ek vir jou vertel het, alles wat Ek gesê het. Hou jou oë op die pad vorentoe. Hou styfvas aan My beloftes en My waarheid dat Ek jou liefhet.

cropped-imgp3015.jpg

Ek hoor van ’n vriendin wie se man verongeluk het en my hart breek vir haar in duisend stukkies. Ek wonder ’n duisend maal waarom ek saam met my man mag koffie drink, aan my man se hand mag vat en luister hoe hy asemhaal langs my in die bed; hy die motor se bande vir my mag omruil en daar mag wees vir ons kinders; ek my onsteltenis oor die baklei en die frustrasie oor Stilkind se eksamenuitslae in sy ore mag stort – terwyl haar man koud en stil is. Op daardie oomblik wat ek die nuus ontvang, is hierdie Karookind self in die Johannesburgse verkeer in spitstyd. Ek het alle voorsorg probeer tref. Maar die verkeer en die duidende mense wat jaag na dit wat vir hulle belangrik is, maak my nogtans verbouereerd. Die oggend voordat ek by die huis weg is, het ek nagmaal gebruik – net om te verklaar hoe afhanklik ek van Jesus is. Ek het my rok aangetrek wat vol van Psalm 36 geskryf is. Aan my vinger is die ring wat ek nooit afhaal nie en wat sê: I am loved by Him who died for me; I am never alone; I am sheltered by the most High. Ek bid woordeloos:

Here, asseblief help.

En in daardie oomblik breek die hemel vir my deur. Die teenwoordigheid van Heilige Gees is so tasbaar in die motor dat my wange blink van die trane. En ek weet onteenseglik dat ek nêrens anders as by Hom wil wees nie. Dit word die versugting van my hart:

Here, kom woon by my, want ek wil altyd ten volle oorgegee wees aan U. Ek wil uitgegiet lewe vir U, want ek is verslaaf aan U skoonheid en U heerlikheid van U genade.

Kosmos

Die wete syfer deur, daar in die Johannesburgse spitsverkeer, waarom dit so belangrik is om stadiger te lewe. Om Hom te kan asem…

In daardie oomblik beleef ek volmaaktheid en ek weet dit is waarvoor ek geskape is – om in Sy omhelsing geborge te wees; bedek met Sy majesteit. In daardie oomblik het ek geen behoeftes nie en is ek volkome vry. Ek bid verder:

 Here, wees my visie ook binne-in die chaos, want ek wil geen ander visie hê nie.

Net daar besef ek  waaraan hou ons vas in moeilike tye!

Wanneer dit moeilik is om vas te hou, hou niemand vas aan dit wat cool is nie. Hulle hou vas aan Christus.
Wanneer dit moeilik is om vas te hou, hou niemand vas aan dit wat hip is nie. Hulle hou vas aan Hom wat heilig is en genees.
Wanneer dit moeilik is om vas te hou, hou ons nie vas aan wat nuwerwets is nie. Ons hou vas aan die Ware Wyn.
Ons hou nie vas aan die heersende en gewilde persone en modes nie, nie aan adresse, titels en suksesse in ons loopbane nie, ons hou vas aan die Vredevors, die ware voleinder van ons geloof.

Ek begin herkou aan dié besef en Sy Lig in daardie oomblik val op my menswees en waarin ek belê – te veel goed waaraan ek nooit kan vashou nie.

IMGP6166

IMGP7361

IMGP3513

En ek prewel tussen my trane deur:

Here, leer my om te dans in die ongefosseerde ritme van Jou genade. Laat my lewe ‘n lied wees wat openbaar wie U is.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s