Twee fietsers op ’n deursigtige Modderdampad

Dis winter. Vanoggend is die wêreld buite my venster bewolk. Ek lees Netwerk 24 het noodnommers gepubliseer omdat die weervoorspellers hewige storms in die Kaap verwag. Ek sit verlig in Sy vredige lig, want die groot wag is verby. In my hart lewe ’n groot stuk dankbaarheid. Op pad werk toe dwarrel die laaste herfsblare grond toe. Die skakerings van oranje en bruin klou aan die klam pad vas. My gedagtes loop na die gloed van ons kaggelvuur en die hitte van ons koolstoof. Ek soebat in my hart soos die kat met sy oë na skoothitte.

autumn-fall-leaves-rain-Favim.com-3667888

In my kop draai die versreëls van Antjie Krog se Lied van die fietsers. Sommer net omdat ek elke aand besef wanneer ons fietsry op die Modderdampad, dat die lewe ook ’n pad is. ’n Reis met soveel elemente wat ons, Sy bruid, aanspoor tot die Bruilof. En ons bly soekend. Sy skaduwee val op ons Silver Back fietse. Langs die pad ruik ons soms die stank van dooie diere – ons sonde, maar meer dikwels ervaar ons Hom in die rooi gloed van die sonsondergang of in die belofte van ’n dubbeldoor reënboog reg oor die pad. Ons leer om Sy heiligheid te bewoon ten spyte van modder en dooie diere en steil opdraandes en afdraandes.

Dis dan juis in Sy gloed wat ek telkens oortuig word om deursigtig te lewe. Die reis van Sy bruid loop soos ons fietspaadjie oor opdraandes en valleie op ’n modderdampad. Soms is ons kompeterend en jaag ons vir die voorste plek en soms is ons gewillig om die agterhoede te dek ter wille van die ongekompliseerdheid daarvan en die rus. Soms gaan dit nie eens oor die stryd om te wen nie, of oor die stryd vorentoe nie. Dit gaan oor die stryd om asem te haal. Almal van ons is besig om ’n fel stryd te stry wat ons heel dikwels voel ons verloor – maar om te wen is om in die stryd te bly. Jy wen slegs die stryd deur aan te hou trap ongeag die pad. En wanneer die vermoë om te glo ontbreek – haal jy asem. Volgende asemteug, volgende trap, volgende tree – dit dra ons. Veral vorentoe. Abba weet: Hy het elke asemteug neergeskryf, ontwerp om die klank van Sy naam te dra, die ewige song wat jou enigste siel troos.

Soms verloor ons mekaar langs die pad soos Antjie Krog se peugeotjaer. Wat ook al die doel van die reis is, soms kom ek hygend en bleek tuis en vee ek die muggies wat droog geword het met my jaagtog reg rondom my mond af –gedagtes wat ek moes uitspoeg of beveg omdat dit nie lewe bring na die tafel van my reis nie – moes vernuwe in Sy skoonheid.

IMG-20180430-WA0006

So kuier ons in die najaar in die Drakensberge. Hier ontdek ons fietsrypaadjies anders as ons modderdampaaie tuis. Maar hierdie paadjies het hulle eie uitdagings. Alhoewel dit lyk soos plekke wat ek nog net op die televisie gesien het, daag dit my uit; lig my heeltemal uit my gemaksone. Dit is paadjies wat jy nie in die gemak van jou motor sou sien nie, maar wat jou noodsaak om in die sneeu-koue van Lesotho op jou fiets te klim en die prys te betaal. Ons ry deur lanings herfsbome, verby plase, deur spruite en beespaadjies en op op op teen die Drakensberge. Dis plek-plek so steil dat ek van my fiets af moet klim en stoot. Baie keer loop ons reis ook teen die opdraandes op – so erg dat ons wil moed opgee. Dit laat my dink aan Much Afraid in Hinds’ feet on High Places:

In answer to her question He said, I am glad that you are learning to appreciate the valley too, but I think it was the altar which you built at the top, Much Afraid, which has made it so easy for you.” (Hinds’ feet on High Places – Hannah Hurnard)

IMG-20180430-WA0001

Bo teen die steilte is dennewoud en stilte. Dis net die wind wat praat deur die dennenaalde. Daar is geen mure om ons berge nie – hier kan ons nie anders as om net deursigtig te wees nie. Net om te kan sien, net om van bo-af in die valleie af te sien, net om gesien te word.

Die af-gaan-slag was makliker, maar tog moes ek leer om my remme te gebruik, al sou ek kon laat los. Maar dan sou ek dalk nie in eenstuk onder gekom het nie. Abba gee ook soms vir ons sulke vryheid. Maar as ons die vryheid nie tussen Sy grense geniet nie, mag ons pad dalk ondeursigtig word en mag ons in die modderpoele bly trap en op die ou einde vir Hom kwalik neem. Soms moet ons ook in ons geestelike lewe die remme trek en dalk stadiger lewe al lê die afdraand voor ons.

Ja, vir elke opdraande is daar ’n afdraande; en soms as ons bo kom na die steiltes, ervaar ons stiltes. Die kuns van oorwinning lê daarin om hierdie stilte en skoonheid van genade te bewoon, want nie een van ons kan iets doen om Abba te laat praat as Hy die stilte en skoonheid wil gebruik om ons iets te leer nie. Vir my was dit om in die wagtyd op Hom te vertrou en te bly glo dat Hy in beheer is, weet wat Hy doen en altyd GOED is en dat ek helaas tog reg gehoor het. Die besonderhede van ons modder mag verskil, maar ons almal se behoefte aan moed is dieselfde. Jy kan nie moed verloor nie, want jy moet Hoop asem. Ek besef weer dat diegene wat ‘n ware Verlosser nodig het, moet ruimte maak om in werklike genade te woon, want dit is die enigste ruimte waar God vir ons bedoel het om asem te haal.

Hoog teen die hange van die soveelste heuwel loop my man eendag ’n entjie aan tot by ’n oorhangende krans. Ek kies om vir hom te wag en gaan sit op ’n plat klip tussen die gras. Om my kop kom draai daar seker vyftig aasvoëls. Dis nou hier waar ek kon twyfel of ons die regte pad gekies het. Ek verkyk my egter aan die grootsheid van die voëls teen die agtergrond van die groen KwaZululandse onherbergsaamheid. En ek besef hoe die vyand soms die grootheid van God kom kopieer en Sy skoonheid van ons kom steel. Ons moet dit in die gees kan raaksien en iets daaraan doen. Ek kon die aasvoëls in die gees herken en bid dat Abba hulle skerp bekke stomp maak sodat hulle nie die beeld van Sy skoonheid verder kan skaad nie. Daar sit ek toe op die kruin van die Drakensberge en kyk ver deur die deursigtige mure van die groen katedraal. Ek sien hoe gaan die aasvoëls hoër op met die berg, hoër in die lug, maar ook hoe naby en geruisloos een aan my vlieg sodat ek sy oë kan sien. Toe dink ek, miskien moet ons siele breek – omdat die vel rondom ons siele te klein geword het wanneer ons groei, met die skoonheid van genade, en ons plekke vind om weer op te staan – hoog te vlieg.

hdr

Terwyl ek so op my grastroon sit, onthou ek in die laaste dae sal dit wees soos in die dae van Noag (Mat. 24:37-39 en Luk.17:26). Noag moes ’n ark bou. Ek probeer myself in sy skoene plaas. Die mense het hom gespot, gedink hy is van sy lotjie getik. Hulle het nog nooit water gesien nie, watwou ’n vaartuig wat op die oënskynlike water kan vaar. Ek hoor al hoe lag hulle vir hom en hoe praat hulle van hom en oor hom. Ek glo hulle het ook om die braaivleisvure van hom gepraat en dan was hy die grap van die partytjie. Ek glo mense het ook grappies oor hom uitgedink. As daar selfone, Facebook of Twitter was, sou een kort-kort ’n grappie van Noag en sy snaakse vaartuig tweet.

Maar Noag was gehoorsaam aan God. Noag het hom oënskynlik nie gesteur aan die mense nie. Ek glo hy het ook in die nag wakker gelê en gedink: “Miskien het ek verkeerd gehoor. Miskien het ek my al hierdie dinge verbeel?” Dis die rede vir die stilte. Maar tog het hy ten spyte van sy eie vertwyfelinge getrou gebly en bly trap. Wanneer almal rondom ons anders dink, ander waardes het, anders handel, dan begin ons twyfel aan ons eie gesonde verstand…

Tog was dit juis Noag se ark wat hom en sy geliefdes veilig gehou het. Toe die water kom en die moeilikheid voor die deur kom lê, kon hy en sy geliefdes in die ark in gaan en hulle was veilig.

Ons bou ook aan ons eie arke. Ons hoor ook soms goed wat ons moet doen en twyfel aan ons eie gesonde verstand. Ons wonder ook of dit wat ons in gehoorsaamheid doen, enige iets beteken en of ons hoegenaamd reg gehoor het. Ons moet ook spot verduur terwyl ons ons ark bou. Ons word ook verwerp en in vriendskap versaak omdat ons kies om getrou te bly aan die Here en Sy saak. Maar dalk is dit dan juis hierdie arke wat ons veilig hou wanneer die verdrukking kom. Ons ark is net nie in die vlees so sigbaar nie, alhoewel dit ook ’n reusagtige grap vir die wêreld in die Gees is. Ons is Sy bruid en ons bou Sy skoonheid (ons ark) en ons is gehoorsaam, omdat ons Hom ken en Hom liefhet en Hom nie wil teleurstel nie.

IMG_20180429_105823

Met die terugtog huis toe besef ek wanneer ons gebroke voel – het ons juis Sy skoonheid nodig om te genees – en Hy is skoonheid. Geraas of nuus of tegnologiese maniere om te kommunikeer, sal nie genesing soos Skoonheid kommunikeer nie, en al die harde inkomende geraas praat nie met ons soos om in Skoonheid se teenwoordigheid te kom nie – en om stil genoeg te word om Hom te hoor nie. Die versuim om skoonheid oral om jou te soek, is versuim om Christus in alles te sien.

Liefde Homself is Skoonheid.

My gedagtes loop terug na my grastroon teen die groen Drakensbergse katedraal en ek wonder: wat as die Skoonheid van die kerk gelê het in die feit dat die kerk geen mure het nie, slegs oop deure, net oop vensters, net die openheid om ten volle gesien te word – en ten volle verwelkomend? Wat as die kerk ‘n plek was waar ons mees gebroke plekke gesien kon word – en ons juis hier die mees geliefd was, juis in die gebroke plekke?

En ek onthou ek en jy is die kerk. En toe bid ek saggies onder my asem terwyl ek trap:

Then may your awakening breath blow upon my life until I am fully yours. Breathe upon me with your Spirit wind. Stir up the sweet spice of your life within me. Spare nothing as you make me your fruitful garden. Hold nothing back until I release your fragrance. Come walk with me as you walked with Adam in your paradise garden. Come taste the fruits of your life in me (Hooglied 4)

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s