My sukses in Sy herfsgloed

Herfs het stort-stort begin loop en bemors die skaamgroen oorblyfsels van somer met spatsels helderoranje, geel, bruin en rooi. Ek ruik dit. Ek sien dit in die blare wat voor my in die pad warrel en die skaduwees wat langer word. Ek voel dit op my vel. Ek sien alles deur die warm kleure van herfs. Ek het ’n herfsbril op. Toe my ousus, elf jaar ouer as ek, matriek was, was ek in graad 1. Ek kon skaars lees, maar ek onthou dit was die tyd toe sy kêrels huis toe gebring het, en ek haar gedigte gelees en haar seven singles geluister het. Ek onthou een gedig wat nou nog die prentjies in my gedagtes teken – van twee wat fietsry in die herfs van Jonkershoek. Moenie vir my vra wat was die gedig se naam nie. Ek onthou net die loom herfsprentjies wat dit in my kop en hart gegraveer het.

Herfspad

So stof ons toe weer ons fietse hierdie jaar af en begin stadig maar seker weer die ou bekende paadjies ry. Die hoëveldse donderstorms dreig elke middag om ons goeie voornemens in die wiele te ry. En soos met enige onfikse trap ek swaar, maar dwing myself om alles rondom my in te asem. En die paadjies lyk elke dag bekend, maar tog anders. Die skakerings van die herfsversierings tooi dit elke dag anders.

En toe praat Abba sommer so padlangs met my. Oor die afgelope jaar se pad wat ek en my gesin gestap het oor sukses en ek bekyk dit weer soos my sussie se herfsgedig – roep weer die prentjies en emosies op wat die pad losgewikkel het. En ek besef dat ek hierdie pad ook uit verskillende skakerings kan bekyk.

Herfspad2

Ons kind met die gehoorverlies het matriek geskryf. Ter selfde tyd was ek besig met ’n veeleisende studie en was daarom genadiglik by die huis en nie op kantoor nie. Ouboet het sy eie stryd gestry met sy studies. In my eie stryd het ek soveel begrip vir hulle ontwikkel en kon ek hulle met die wysheid wat ek vir myself langs die pad bymekaar gemaak het, bedien. Vir my het bekende paadjies van akademie en leer en sukkel van doer ver, van kleintyd af, skielik anders begin lyk deur my nuwe geskakeerde lense.

Tog het ek myself kort-kort gevang dat ek brille ruil. As ek weer vir my kom kry, het ek die wêreldse bril op wat my en my kinders se suksesse vanuit die lense van die wêreld, na mislukkings laat lyk. Ons proe die gevoel van mislukking die oomblik wanneer ons nie GENOEG voel ten opsigte van die ongeskrewe standaarde wat die wêreld vir ons voorhou nie, want die versugting het kort-kort kopuitgesteek van wanneer is ek dan genoeg? Die meetlat bly gedurig net-net buite jou bereik. Ek het elke keer besef ek kan nooit genoeg wees nie, maar Christus in my is altyd genoeg.

In die eerste plek moes ek die hele tyd sukses opweeg: is dit die verkryging van ’n stuk papier waarop ’n punt staan vir ons harde werk of die woorde van ’n verslag wat eintlik ’n persoon se opinie is teenoor ons poging om die reis te leef en die hartslesse wat Abba sien as sukses. Ek moes die hele tyd myself herinner dat titels en uitslae vir Hom irrelevant is, maar dat die reis na die eindresultaat vir Hom belangrik is. Elkeen van ons drie het ander oorlewingsmeganismes ingespan om die reis met sy eise te hanteer. En hierdie oorlewingsmeganismes is dit wat vir elkeen van ons bekend is en relatief maklik is om te beheer.

So kry almal in die huis hulle uitslae en is ons dankbaar vir wat in elkeen se hart gebore is tydens die proses, maar die wagtyd is egter nog nie vir my oor nie. En ek het agtergekom ek is BAIE sleg met wag. In my wag hoor ek hoe Heilige Gees vir my sê:

Beweeg vorentoe in geloof en repeteer wat God oor en oor oor jou grondgebied gespreek het. Wat die vyand as skade vir jou bedoel het, gebruik God vir jou voorspoed (Genesis 50:20). Hy gebruik die stryd, die “geringe lyding” om jou sterk te maak en jou op te bou.

Die vyand probeer om jou waters te vertroebel met modder. Die Here het met jou gepraat oor hierdie nuwe grondgebied, hoe dit lyk, waarmee Hy besig is en Sy hart vir jou in hierdie nuwe grondgebied as erfenis. Hierdie goed wat jy nou beleef, is amper teenoorgestelde van wat God gesê het, dit het verwarring gebring, dit het ‘n gebrek aan vrede gebring, dit het vrees en angs en ander manifestasies in natuurlike omstandighede gebring. Daardie vrug is NIE die Here nie.

Herfsgloed

En hierdie boodskap is die teenoorgestelde van wat die Woord ons leer:

But the fruit of the Spirit (the result of His presence within us) is love (unselfish concern for others), joy, (inner) peace, patience (not the ability to wait, but how we act while waiting), kindness, goodness, faithfulness, gentleness, self-control. Against such things there is no law.

Maar wanneer die verslae en rapporte kom en die uitslag is nie soos die wêreld sukses definieer nie, beleef ek skaamte. Skaamte is ’n boelie. Genade is ’n skild wat jou beskerm, want agter die veilige beskerming van Genade noem Hy jou Sy geliefde.

Beide die man en sy vrou was naak, maar het geen skaamte gehad nie ” (Gen. 2:25).

So het die lewe begin, in ons Eden, naak en onbeskaamd. Dit is meer as ‘n verlange; so is ons geskep om te wees. Dit is die goddelike ontwerp van ons mensdom, dat ons as onbedekte en ontblote mense sal lewe. Skande stroop ons van ons vertroue. Dit spin ons toe met sy subtiele leuens, wat ons met verlange en eensaamheid laat. Skande hou ons in die strewe na aanvaarding, maar genade skenk aan ons ‘n ewige hoedanigheid van behoort.

Om radikaal te lewe gaan nie oor wat jy vermag nie – dit gaan oor hoe jy liefhet. .Dit gaan oor die besef dat liefde gebeur nie wanneer jy sekere sukses behaal nie. Dit gebeur wanneer jou hart op ‘n sekere plek aankom – waar jy ook al is, op ‘n grondpad of ‘n systraat of in ’n wagtyd. Want dit gaan nie oor waar ons liefhet nie, maar hoe ons liefhet. Dis wie ons liefhet. Die beloning van liefde is in die liefde; liefde is self die groot uitkoms van liefde. Die sukses van liefde is in hoe ons verander omdat ons aanhou liefgehad het – ongeag of enige iets anders wel verander – of ons enige suksesse behaal het in die wêreld se oë. Die waarde van liefde is in die waarde daarvan om soos Christus te wees. .Maar as die liefde van Christus jou beweeg, sal dit jou in die wêreld in beweeg. Hy sal jou beweeg om hekke af te breek.

Abba wys dit een oggend prakties vir my. Ek was laat vir werk en uit die gietende reën kom my getroue huishulp sopnat by die agterdeur in – dieselfde tyd wat ek uithardloop om in die motor te spring. Eers vertel sy vir my dat sy Huppelkind se skoolrok reggemaak het – haar gebaar van liefde vir my en Huppelkind. Die stukkende rok het in die studeerkamer gelê en wag dat ek dit moet regmaak en ek het net nie daarby uitgekom nie. Toe sien sy dit en maak dit reg. En hierdie liefdesgebaar vou my hart toe. Toe ek vinnig uit die erf jaag, staan sy met haar nat lyf en maak vir my die hek oop. Ek het heelpad werk toe saam met die reën gehuil – die reën van Sy seën wat ek kon smaak in haar selflose liefdesdaad.

 

Huppelkind het musiekkonsert. Al die kinders se harde werk van baie ure word ten toon gestel op die verhoog. Een van die deelnemers is ’n wêreldbekende wat op wêreldverhoë deelneem en die skares van die wêreld verower, maar tog ook laag kan buig en vir die skool deelneem. Sy verskyn op die verhoog in ’n pragtige rooi rok en maak haar mond oop en stuur deur ons almal die een vlaag hoendervleis na die ander. En terwyl ek sit onder die geklank van haar pragtige stem, besef ek skielik: Wanneer ons tyd van glorie dan uiteindelik sou aanbreek en ons op die lewe se verhoog verskyn, gaan dit nie oor die rooi rok of die rooi toga of die erkenning van baie dae en nagte se harde werk en trane nie, maar alles moet heen wys na Jesus. Wat ek ook al doen moet wys na Hom. Dan verdwyn ons agter Sy grootheid en sien mense Hom en nie vir my en jou nie en kan ek wegraak agter Sy glorie. Dit skep geleentheid vir Sy vloeibare glorie om van Sy troon af te loop en almal wat in die pad daarvan kom, aan te raak en te verander, want hulle sal besef dat hulle in die teenwoordigheid van die lewende God was.

IMGP7368

Maar ek moet ook besef dat wanneer die uitslag nie is wat jy verwag het nie, beteken dit nie dat God verander het nie. Wanneer jy dan moet wag, sien jy Sy skoonheid van verlossing, omdat God nog steeds besig is om te skep, en Hy op hierdie oomblik besig is om Sy skoonheid in ons te weef.

Wat beteken dit dan om agter Sy vloeibare glorie weg te raak wanneer ons ons talente vir Hom teruggee? En toe kom Abba en bedien my met die einste rykdom van die herfskleure. Wanneer ek regtig na Jesus se gedagtes luister; dit hoor, sien en uitvoer ontvang ek krag en insig hoe om agter Sy vloeibare glorie weg te raak. Dit is wanneer die vlammende herfsoranje my geloofsvuur aansteek en ’n skild rondom my vorm. Jesus se gedagtes verlig my weg. Dit word die goue lig van die minora in die Allerheiligste van die tempel op die tafel van die Brood van Abba se wil. Die Brood wat ons nie kan sien sonder die oranje gloed van regtig luister wat ons gedagtes aansteek nie. Wanneer die minora van ons verstand verlig word met die lig van Christus se gedagtes, kan ons Abba se wil sien. Wanneer ons met ons harte “sien” wat Abba doen, is ons ook bemagtig om dit te doen wat Hy doen. Oranje is die kleur van bemagtiging. As ons Hoëpriester nie toegang tot ons gedagtes ontvang nie, kan ons minora nie reg werk nie. Ons olie moet elke oggend en aand vars gevul word. Ons lamppitte moet gesny word. Die vuur van die altaar van offerande (Jesus se bloed op vuur) moet deur ons Hoëpriester gebring word om die sewe lampe van ons minora te verlig. ORANJE is die kleur van GEEL olie op VUUR met die gedagtes VAN CHRISTUS. ORANJE is die kleur van wonderwerke. Hierdie kleur getuig hardop van God se handewerk. Wonderwerke en genesings word luidkeels uitgesaai onder hierdie kleur in Sy geestelike koninkryk. Die stem van die heiliges wat God se wonderwerke spreek, belig die siele van almal wat hoor en glo met ORANJE LIG. Oranje is lig wat uit die GOUE mure en meubels in die tempel van ons harte weerspieël. Wanneer WYSHEID in ons hart en gees kom, begin ORANJE LIG manifesteer. Wanneer BEGRIP IN ONS ingeënt word, manifesteer ORANJE LIG. Wanneer raad uit die hemel soos ‘n gloeilamp in ons brein aangaan, gebeur ORANJE. Wanneer die engele krag en vermoë uit die hemel bring, gebeur ORANJE. Wanneer iemand die Here vrees of eerbiedig, skyn ORANJE. Wanneer iemand kom om kennis van die openbaring van die Here te verkry, is oranje helder en duidelik. Wanneer die Gees van die Here die Woord van God en die wil van God in ons innerlike wese verlig, skyn die gedagtes van Christus in ons siele.

Skildery in Gouda

Kosmos

Kom vertoef in Sy herfslig wanneer jou harde werk soos ’n mislukking lyk. Kom baai in Sy herfslig as jy moet wag. Kom sit sommer net saam met my in die gloed van Sy herfslig…

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s