Ek leer om my ongemak te omhels

My oudste word 21 en ons is later moedeloos gedink, gesoek, gevra wat die dag vir hom spesiaal sal maak. Hy wil asseblief nie ’n partytjie hê nie. Hy wil asseblief nie geld en groot geskenke hê nie. Jelly beans en roomys op sy verjaarsdag is genoeg. Huppelkind bou vir hom ’n roomyskoek al is sy amper in trane van sukkel en sy wil so graag hê dit moet perfek wees. Sy bak skelm, terwyl hy sy laaste vak skryf – brownies, wat die lae van die koek moet help vorm. Die brownies brand en is kliphard – maar proe hemels. So ontdek sy in haar swaarkry die skat – dat alles wat veronderstel is om soos brand te proe, omdat dit so lyk, eintlik ’n soet nasmaak agterlaat.

IMGP3768

Sy skrop ’n konfytblik en voer dit met waspapier uit. Sy meng die roomys met Whispers.

Ons kry ’n groot houer vol jelly beans in die hande. En diep in die jelly beans versteek ons vir hom ’n skat en hoop soos wat hy die gekleurde boontjies eet (die swaarkry) hy op die skat sal afkom. Dis moeilik om nie namens hom die boontjies te begin eet wanneer hy laataand dink, is dit nou al? Was dit my 21ste verjaarsdag? Pa skryf vir hom ’n kaartjie waarin hy hom seën. Regtig seën soos Jakob vir Esau seën. Maar ons bly doodstil oor die skat versteek in die jelly beans. Oupa kom sê geluk en het ten spyte van die swaar loop en die swaar vat van sy hande ’n botteltjie Shield gaan koop en ’n Lunchbar en dit vir Ouboet toegedraai in (gebruikte, gekreukelde) papier met katte op. En dit raak Ouboet se hart. Laataand kry ek ’n Whatsapp:

Vanaand sit ek ’n halfuur na my verjaarsdag op die 18de November op my bed en huil, want ek kyk na my geskenk. Ek het nie ’n kar of ’n fiets of ’n huis se sleutel gekry nie… maar onvoorwaardelike liefde. Dié het ek eers besef toe ek Oupa se geskenk oopmaak, netjies toegedraai in vaalblou katjiegeskenkpapier die blikkie lekkeruikgoed en sjokolade, het liefde met opgeswelde, seer hande netjies elke hoekie toegevou en elke stukkie kleeflint mooi afgemeet. Alles met geduld, liefde tyd aanmekaar geweef.  Die woord geskenk is so ’n gepaste naam vir die aksie. Geskenk- die aksie om iets van waarde vir jou, weg te gee. Vandag is daar aan my geskenk. Kosbare woorde uit Potchefstroom, Bloemfontein, Odendaalsrus en selfs Skotland. Toe ek 21 jaar oud geword het, het ek nie ’n kar of ’n fiets of ’n nuwe huis se sleutel gekry nie. Want toe ek 21 jaar oud geword het, het ek alles gekry wat my hart begeer. Aan tafel het vier groot geeste langs my gesit. Vier mense in wie se oë ek geluk, vreugde en onvoorwaardelike liefde kon kry. En ons het fees gevier.

IMGP3771

Al  weet ek Ouboet het nog nie die groot skat in die jelly beans gekry nie, het die soet van dit wat hy reeds geëet het, klaar aan sy verhemelte begin kleef…

Ons droom almal oor eendag. Van kleinsaf. Eendag as ek groot is. Eendag wanneer ek klaar is met skool. Eendag wanneer ek doen waaroor ek nog altyd gedroom het. Eendag wanneer ek gelukkig getroud is. Dit is asof ons droom oor eendag, want dan gaan dit beter gaan met ons. Eendag word die brug van waar ek nou is na die plek waar hulle vir altyd en altyd gelukkig saam lewe. My reis van ongemak het my hierdie jaar geleer dis nie waar nie. My strewe na Eendag veroorsaak dat ek al die volmaakte oomblikke langs my ongemak miskyk. Ek leer nou nog daagliks om my ongemak te omhels. Ek word nie aangeraak deur mense se stories wat broei in hulle gemaksone nie – dis boring! Ek word aangeraak deur mense se stories wat juis hulle ongemak oorwin het. My lewe kan nie ’n getuienis wees indien ek die hele tyd voorspoedig in my gemaksone floreer nie. Dit is seker hoekom Paulus  in Jakobus 1:2-4 gesê het dat ons onsself gelukkig moet ag wanneer allerhande beproewinge ons pad kruis.

Vra maar vir Deon Meyer, sy boeke sal nie verkoop indien sy stories nie vol intrige is nie. Nou waarom maak ek my moeg om daardie en-hulle-het-vir-altyd-en-altyd-gelukkig-saam-gelewe lewe te hê? En so in die hardloop vergelyk ek my met almal langs die pad en van buite af lyk dit asof almal, behalwe ek daardie lewe ingepalm het. Wat doen ek dan verkeerd? En dan probeer ek net nog harder. En wat my meer moeg maak, is dat ek al die goedjies wat nie in hierdie en-hulle-het-vir-altyd-en-altyd-gelukkig-saam-gelewe pas nie, moet toehou vir die wêreld sodat hulle dit asseblief tog net nie sal sien nie. Al het ek dan nie ’n lewe sonder ongemak nie, moet dit ten minste so lyk.

In my ongemak onthou ek weer die storie van Corrie ten Boom. Ek stap weer deur die herinnering van haar storie en weet dat ek nooit van die merkwaardige vrou kennis sou neem, was dit nie vir die grusame ongemak wat deel is van haar getuienis nie. Sy is my heldin. Ek beleef weer haar blyplek in Haarlem. Nie ’n paleis nie. Inteendeel. Niemand sou eers die karige woning opgemerk het as my heldin se getuienis nie daaraan gekoppel was nie. In die oë van die wêreld mag hierdie soort oorwinning nie eintlik iets wees wat enigiemand sal wil najaag nie. Wie sal dit nou kies?

IMGP2352IMGP2348

Ek raak moeg om uit my gemaksone te wees en baklei vir die herstel van daardie gemaksone – maar in die proses besef ek hoe nodig ek Jesus het! En Hy wil hê dat ek Hom nodig moet hê. Ek het besef dat ek afhanklik van Hom is vir elke asemteug. Vir alles moet ek in Sy gesig kyk en wag op Hom. Die woorde van Fil 4:13 – ek is tot ALLES in staat deur Christus wat vir my krag gee, kry vir my nuwe betekenis. So loop ek eendag buitentoe, tydens my ongemak, om lavender vir my ousus te gaan pluk. En ek ontdek ’n pienk spinnekop op een van die lavenderblommetjies. Ons ontdek dit is ’n krapspinnekop en dat dit die wyfie is wat so ’n pragtige pienk kleur het. Sy spin glad nie ’n web nie en kan baie geduldig WAG om haar prooi te vang.  Ai, en soms is dit daardie wag, terwyl ek in my ongemak sit, wat vir my laat glo dat Hy van my vergeet het. Maar om te wag, is om my ongemak te omhels en tree vir tree vorentoe te beweeg in Sy krag, nie my eie nie.

Dan op ’n dag, kyk ek agtertoe en besef ’n wonderwerk het plaasgevind. Ek kan nie glo dat ek die pad gestap het en met sukses oorleef het nie. Jesus kom openbaar Homself in my en jou ongemak. Hoeveel keer moes ek my kop teen Sy bors neerlê en hoor: dit is oukei om nie oukei te wees nie. En ek leer op hierdie pad om lief te hê ten spyte van – om nie aanstoot te neem nie… Want ek leer om verwerping vierkantig in die oë te kyk. Want glo my, jy gaan gekruisig word oor die oortuiging van jou hart.

Wanneer ek verwerping ervaar, bly my behoeftes onbeantwoord en onbeantwoorde behoeftes veroorsaak dat my liefdesbeker leeg bly. Die ding waarnatoe ek uitgereik het, klap my hand weg en my liefdesbeker bly leeg. Vrees kom staan regop en om die vrees te besweer, bou ek ’n afgod wat hierdie onbeantwoorde behoeftes en my vrees moet besweer. Jesus wil my liefdesbeker vul. Hy ALLEEN. Ek moet na Hom toe draai om my liefdesbeker te vul – nie toelaat dat vrees my dring om ’n afgod op te rig nie. En hierdie afgod kan bedrieglike gestaltes aanneem wat in hulle gekamoefleerde status geregverdig kan word. Geld, status, vriende, my kinders, my man, my werk kan alles goed wees waarin ek my verwagting plaas om my liefdesbeker te vul…

Ek het hierdie jaar in my ongemak geleer dat dit ’n baie eensame pad is. Veral wanneer jou oë op mense is. Maar wanneer jou fokus na Jesus verskuif, kom nestel daar ’n vergenoegdheid in jou hart wat die woorde wat by jou mond uitkom, skaars maak. Dis die gewoonte om te volhard in die wonder van die oomblik wat moed vra, maar hierdie wonderoomblikke maak alle ongemak die moeite werd.

Soms is die beste manier om deur ongemak te kom, om nie bang te wees om saam met my ongemak te kuier nie. Wanneer my lewe gaan om ongemak te vermy, gaan ek op die ou einde my hele lewe moet vermy. Maar wanneer ek ruimte skep vir my ongemak, kom ek agter my ongemak vra minder ruimte. Maar dit vra moed. En moed kom vanuit intimiteit met Abba – om by Hom te wees.

Versteek in ons ergste swaarkry is altyd ’n skat wat ons glad nie verwag nie en wat ons hart kom omvou met ’n rykdom van Iemand wat presies weet wie ons is en wat ons liefdesbeker sal laat oorloop. Moenie dit mis nie!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s