Germolene vir my hart

My pa het ’n kleinkoffertjie gehad waarin daar ’n paar noodsaaklike goedjies was waarsonder mens nie kon klaarkom nie. Onder andere was daar Germolene in die koffertjie. ’n Salfie wat jy vir enige seerplek kon aanwend – van naels wat te kort gesny is tot meer ernstige brandwonde. Nodeloos om te sê dat ek die tradisie voortgesit het en my kinders het daarom ook met Germolene grootgeword. Wanneer hulle kom huil het oor ’n seerplek, het ek die pienk salfie gaan uithaal met die kenmerkende Vicks Bubblegum-geur. Gister kom kla my tienerkind oor haar hart wat pyn – letterlik pyn. Ek het diep gedink aan ’n antwoord en by my gebrek aan die regte woorde, het ek hartstogtelik gewens dat daar Germolene vir jou hart was…

Germolene

IMGP8956

As alles in die lewe maar so maklik was…

Ek huil deesdae so baie oor die stukkende en gebroke wêreld rondom my. Ek huil oor die vrou wat vir my vertel hoe hulle Kersfees as kinders gevier het – haar ouers was dronk en haar pa buitengewoon aggressief. Hulle moes as klein kindertjies haar ma se wonde versorg en die bloed opdroog nadat haar pa se woede gemanifesteer het. Ek huil oor die jongman wat geboë vir my vertel hoe die maatskaplike werkers hom op die ashoop opgetel het as baba. Ek huil oor almal se trauma en verlies in Knysna. Ek huil oor ’n kennis wat verongeluk op pad na haar kind se dialise. Ek huil oor die vrou wat met borskanker gediagnoseer word en haar man moet begrawe in dieselfde asem. Ek huil oor ’n jong seun wat gediagnoseer word met ’n sindroom wat sy liggaam aftakel en sy ma wat ’n paar keer elke dag haar hart se duisende stukkies moet optel en bymekaar sit.

Ek huil oor my eie onvermoë om iets aan almal se seer en swaar te kan doen.

En ek huil veral oor my eie gebrokenheid.

Dis veral dan wanneer ek wens vir ’n groot buis Germolene om aan almal se seer te smeer, veral myne, sodat ek die rondom my, wat swaar trek, beter kan abba…

Heilige Gees kom maak my deesdae kort-kort bewus van die oorsaak van my eie gebrokenheid. Ek kyk opnuut met binne-oë na al my behoeftes en verwagtinge wat nooit bevredig is nie en al die onopgeloste kwessies in my lewe. Dis baie makliker om dit nie te konfronteer nie – dit uit jou hart te vee met ’n harde besem. Dis minder seer en swaar. Maar tog besluit ek om al die waagmoed in my murg bymekaar te maak en te vra dat Heilige Gees met Sy heilige Lig op al my onbevredigende behoeftes en verwagtinge en onopgeloste kwessies sal skyn. Toe moet ek weer selfbejammering probeer side step. Want sien, wanneer hierdie Lig op al my seer skyn, krimp ek ineen onder die gewig daarvan en lê dit my lam. En dis nie wat ek wil hê nie. Ek wil dit vir eens en vir altyd uit my lewe hê. Ek wil dit uitruk, ontbloot en Heilige Gees moet Sy Germolene daarop smeer… En ek moet word wat Hy oor my gedroom het. Ek moet word wat ek was voordat die teleurstelling van seer en verwagtinge my ontvorm en verwring het. Voordat hierdie gevoel van ek is verneuk lêplek in my gedagtes en hart kom kry het. Soos wat die Soeklig besig is in my lewe, staal ek myself om nie te koes vir die Waarheid nie. Ek is reg om dit kaalvuis te trotseer – eerlik in die oë te kyk. Maar hierdie pad van heelword, maak my moeg.

In ons tuin is daar rooikop houtkapper wat ’n nes maak in die stam van ’n droë wilgerboomstam. Kort-kort begin hy ’n nuwe gaatjie. Met nadere ondersoek, sien ek dat die hele stam vol liewenheersbesies is – geles sonder kolletjies, geles met kolletjies, rooies sonder kolletjies, rooies met kolletjies. Ek begin oplet dat daar ook baie teen die huis sit en op my wit Iceberg rose. Toe praat Heilige Gees en ek hoor Hom vra: wat doen die liewenheersbesies in jou tuin? Ek antwoord: ek dink hulle eet die luise… Ek hoor: so sal Ek die liewenheersbesies in jou lewe stuur om al die luise op te vreet sodat jy ongestoord kan blom. Kan dit wees dat daar geestelike liewenheersbesies in ons almal se lewens is wat die werk van Germolene doen? Dat dit al die kieme (onvoltooide verwagtinge en onuitgesorteerde seer) kom opvreet sonder dat ek daarvoor hoef te baklei? Maar dan moet ek dit toelaat…

IMGP3617

IMGP3626

IMGP3623

Hoe?

Waar het hierdie verwagting vandaan gekom om te arriveer voor volkome Geluk se deur?

Soos wat ’n mens groei en ouer word, kom jy agter dat die lewe nie sonder moeilikheid is nie, inteendeel. En die ergste van alles is dat ek ervaar dat Jesus nie ’n “free pass” na Geluk is nie en om Hom te dien nog minder. Ek dink ook baie aan die geykte uitdrukking dat ons ons lewens inrig vir eendag. Eendag wanneer ek dit het of dat bereik het, sal ek gelukkig wees. Ons strewe almal na ’n “and they all live happily ever after” -lewe.

IMGP6385

Vanoggend besef ek, my fokus was die hele tyd om in Geluk te arriveer en my fokus moet wees om heilig te wees.

In ons huis sit almal op die oomblik met hulle koppe laag gebuig oor die akademie. Ouboet kom met hangskouers ingesluip waar ek my lampie oor ’n klomp data laat brand. Ek kyk op en besef, selfs die stukkie papier met ons naam op waarvoor ons soveel tyd infesteer, is nie ’n waarborg vir Geluk nie. God het nie ’n stuk papier met my naam op nodig om my te seën nie, dit gaan alles oor die reis op pad na daardie doelwit. Dit is vir Hom baie belangriker wat alles in die proses op my hart geskryf word as die naam op die stukkie papier aan die einde. Hierdie stukkie papier is net ’n middel tot ’n doel – sodat Ek Is leer ken. Die reis na die papier en wat ek langs die pad leer van Hom is waaroor dit gaan. As Hy my stryd om ’n papier met my naam op kan gebruik om totaal in Sy hart te kruip, dan was ek suksesvol. Dis die wêreld wat sukses meet aan ’n naam op papiere – ’n matrieksertifikaat of ’n graadsertifikaat. Hy meet sukses aan dit wat in my hart staan. So as jy dan ses jaar vat om daardie papier met jou naam op te kry en jy het in die proses Abba se karakter leer ken, was dit elke traan en opoffering en geveg tot die bloed loop, die moeite werd. Die feit dat Hy vir ons in hierdie vuur, hierdie uithourit hou, is sodat ons sinne gesuiwer kan word sodat ons helder kan sien, hoor, proe, voel en ruik dat die Here goed is – en hierdie helderheid kry ons langs die pad wanneer ons sterf aan onsself. En dis bitter seer en sleg. Maar dit maak dat ek elke volgende hindernis met meer vasberadenheid en groter deursettingsvermoë aanpak en elke oorwinning soet, soeter soetste kan wees. To press in!

Ja, niemand is veronderstel om te huil oor die seer van kleintyd se Kersfees nie. Geen kind is veronderstel om haar ma se wonde bymekaar te trek sodat die bloed kan stop nie. Geen jongman is veronderstel om ineen te krimp aan die herinnering van sy ashoopredding nie. Niemand se huis en al sy besittings is veronderstel om voor sy oë in vlamme op te gaan nie. Niemand is veronderstel om voor sy kind se oë dood te gaan nie. Niemand is veronderstel om te veg teen kanker en terselfde tyd voor haar man se oop graf te staan nie. Niemand is veronderstel om gedurig die stukkies van haar hart bymekaar te maak omdat sy die swaar van die aftakeling van haar haar kind se siekte moet verwerk nie.

Soms raak ek net so moeg baklei. Moeg van my eie gebrokenheid. Moeg om selfondersoek te doen en te bely. Moeg om te soek na die saad van die vrug wat ek en my kinders eet wat moontlik in ons bloedlyn gesaai is. Soms voel dit asof ek net die een reus oorwin het, dan het daar intussen ses ander opgestaan.

Toe die groot moeg weer oor my kom, besluit ek om net daar in die stormwind, wat wyd om my woed, te staan. Nie te probeer vorentoe beweeg nie – nie te baklei vir Geluk nie. Ek het net hakke in die grond geslaan sodat die wind my nie agtertoe waai nie. Toe ervaar ek: not by power not by might, but by my Spirit says the Lord…. En daar gaan lê die wind. En ek stap weer op my reis – die keer bietjie ligter omdat ek besef, stap sal ons stap tot die dag wat Jesus ons kom haal, intussen moet ek ophou om my moeg te maak om VOLMAAKTE Geluk (papiere met my naam op) hier in die tentwoning te kry. Want hier, in dié tentwoning, gaan ons nooit arriveer nie. Ek kan nou maar net so wel go with The Flow… Hy is per slot van sake ALTYD in beheer.

Solank my sinne ingestel is net op Hom (duifie oë) en ek bly in Sy skaduwee (vertoef 24/7 in Sy teenwoordigheid) gaan ek oraait wees en die reis klaarmaak, sonder ’n tas met Germolene in. Ek kan lig reis, want Hy voorsien die Germolene – ek hoef dit nie saam met my te dra vir ingeval ek dit sou nodig kry nie. Geluk is om diepe vervulling te ervaar asook vergenoegdheid in Sy teenwoordigheid en Goddelike goedheid – ongeag wat jou omstandighede mag wees. Dis nie die afwesigheid van hartseer nie.

Die kuns lê daarin om die onbeantwoorde verwagting of die onafgehandelde seer te herken, jou aandeel daarin te bely en jou gesig dan na Sy Heilige Lig te draai. Om te herken ware, God-gevulde geluk is nie die afwesigheid van hartseer nie. Inteendeel, dit is om aan die waarheid van Sy soewereine goedheid vas te klou, ongeag wat binne of rondom ons gebeur. Ek strewe nie meer om hier in Ethopia van Geluk te arriveer nie, maar om Sy Ketubah te lees sodat ek heilig in my ewige woning kan arriveer. Ek het nie meer ’n tas vol Germolene in my hand nie, maar ek het ’n bril op wat my met Heilige Lig lei.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s