My katedraal gedoop in Sy teenwoordigheid

Ek wou eintlik nie die storie vir julle vertel het nie, maar dis nou maar eenmaal een van daardie stories wat moet uit. Ek dink die swaarste hiervan is dat dit mens so weerloos laat. Ek dink nie ek het al so baie gehuil in my lewe nie. Ek huil totdat ek nie meer trane oor het in my lyf nie en dan huil ek nog.

Ek is besig met ’n groot projek, en moes daarom onder andere stories versamel. Nou stories is eintlik my kos. Maar ’n mens kry stories en stories. Hierdie stories is van mense se seer, se hopeloosheid, se armoede, se stryd. Van hulle val en hulle opstaan en soms bly lê. Ek hoor van kinders wat meestal by hulle ouma grootword, omdat hulle ma stad toe is om te gaan werk en daar nie vir hulle plek is in haar lewe nie. Hulle pa ken hulle net in naam. Hy is totaal afwesig. Ek hoor hoe sommige kinders, wat hul ma’s nooit geken het nie, deur middel van ’n telefoonoproep hoor dat sy vermoor is. Dan gaan ouma, hul enigste familie, dood op dertienjarige ouderdom en hulle moet weer ’n ander heenkome vind. Hul pa sit in die tronk, want dié het iemand vermoor deur die persoon aan die brand te steek.

IMGP5329

IMGP5317

En ek huil.

Ek huil.

Ek huil, want die kind sê vir my dis oukei, want hy het in stede die Here gevind. Hy het nou net die Here om aan vas te hou, maar dis ’n goeie vashouplek. Dis ’n onwankelbare rots. En ek sien die kind praat die waarheid. Dit is nie sommer net praatjies nie. Sy gesig straal en daar is ten spyte van alles wat hy vir my vertel, VREUGDE in sy stem.

Ek kyk deur my trane by die venster uit en ek sien hoe die voëltjies baljaar in die boom met sy pienk herfsappeltjies. En op my stoep lê die geel en rooi-oranje blare. Ek kyk na die blare en die appeltjies, na my rose en die vrugtebome en sien dat die somer besig is om te sterf. Dis najaar. En ek besef dat daar ’n duisend maniere is om te sterf – en nooit regtig te lewe nie. Maar daar is ook ’n manier om jou kruis op te neem soos hierdie seun en te sterf aan jouself sodat jy regtig kan lewe. Die kuns om regtig te lewe is om vas te hou aan Sy beloftes – en my lewe oor te gee aan Sy plan. En hierdie lewe is nie om ryk te word nie, maar om ’n ryk lewe te leef.

Terwyl ek deur my venster sien hoe die seisoen verander en die vrugte wat in die grond geval het nou sterf, saam met al die kleure van die najaar, vra ek myself: Wat is die verskil tussen my en hierdie seun wat soveel swaarkry beleef het, dat dit deel van sy DNA kon wees? Hy het al op ’n vroeë ouderdom die kuns aangeleer hoe om regtig te lewe omdat hy heeltemal gesterf het aan alles wat sy identiteit hier kon vorm. Hy kon nie anders nie – Sy identiteit is nou totaal in Christus. Ek wil uit my gemakstoel hierdie pad voetjie-vir-voetjie stap. Elke dag die genade manna voor my tent optel om uit my versadiging die pad te bly stap. Hy het van jongs af in die diep water geswem, amper verdrink en in stede van Sy genade net op te tel, deel hy dit mildelik uit met vreugde.

Die middag ry ek om gou my huishulp weg te vat. Ek ry verby ’n ou kerkie wat taamlik verwaarloos daar uitsien. En iets in die kerk resoneer in my gees. Dis hoe die stukkend waarmee ek werk en waarin ek staan, lyk. Dis eintlik bedoel as plek om die Here te ontmoet, waar ek Lewende Water kan gaan drink en nooit weer dors word nie (Johannes 7). Maar ek is beroof van Sy teenwoordigheid. En daarom is ek permanent besig om Sy genade op te tel en myself boepens te eet daaraan en is ek nie in staat om dit uit te deel nie. My lewe is bedoel om ’n lofoffer vir Hom te wees. Maar ek is stukkend. Verwaarloos. En sypel die Genade by die barste van my mure uit en kan ek nie genoeg kry om ook uit te deel nie, want ek is nie in Sy teenwoordigheid nie. 1 Samuel 3:4 sê: Kom laat ons die ark van die verbond van die Here terugbring. Die ark van die verbond het die teenwoordigheid van die Here vir die volk Israel verteenwoordig.

IMGP3553

IMGP3561

Wanneer ek in Sy teenwoordigheid vertoef, kom verander Hy my gedagtes – neem Hy dit gevange in gehoorsaamheid tot Hom en kry my gedagtes Lewe. Hy kom vul die barste van my bestaan met Sy liefde en stadig maar seker restoureer Hy al die brûe van my lewe. Die gedagte wat ek toegelaat het: dat my man my nie lief genoeg het nie; of dat ek nie goed genoeg is nie; of dat ek nie daartoe in staat is nie, kom verander Hy, dat ek die dinge sien wat nie bestaan nie. En dis geloof!

Dit laat dink my aan Huppelkind wat gistermiddag by die huis gekom het met blink oë. Sy kon nie gou genoeg vir my vertel van haar beste vriendin wat een van tien mense is wat ’n miljoen rand kan wen nie. Sy stort hulle twee se prate van die skool tot by die huis uit in my gewillige oor. “As sy nou daardie miljoen rand wen, gaan sy vir hulle elkeen ’n scooter koop en hulle gaan Mall of Africa toe vir inkopies en sy sal sommer self die petrol in die motor gooi soontoe en terug…” Ek kyk vir my kind se opgewonde, blink oë en ek weet dat ek weet, ongeag die wêreldsheid van hul drome en die materialisme daaraan gekoppel, is dit hoe HOOP lyk.

Ann Voskamp het eenkeer gesê: “Hope is the thing with wings that lands at the end of you and shows you how to open to possibilities So you never close again.” Jy maak jou lewenskerk se deur wawyd oop vir ander om ook te kom drink, en daardie deur gaan nooit toe nie.

Dit laat my dink aan die stukkie in my New King James Bybel wat ek al so dik onderstreep het, dat dit amper onleesbaar is: “Faith looks to the One who promises, hope looks to the things promised.”

IMGP3574

IMGP3567

IMGP3577

Wanneer ek dan glo en gehoorsaam is, omdat ek glo, word ek die speek in die vyand se wiel omdat ek die vel aantrek van die waaghalsige en gevaarlike liefde van my gekruisigde Jesus. Sy volmaakte liefde dryf alle vrees uit. Ook my vrees vir mense wat soms groter is as my vrees vir die Here. Die vrees dat ek nie goed genoeg is nie, kan nie bestaan in Sy teenwoordigheid nie. Die mate wat ek Sy genade vir myself vat, word dieselfde mate wat ek Sy genade vir ander uitdeel. En dis wat die kind in my hartseer storie vir my kom leer. As ek groot hompe Genade gulsig sluk, kan ek groot hompe Genade uitdeel. En dis nie leeg nie. Dit sal ook nooit leeg na my toe terugkeer nie. Maar ek moet dit gaan haal in Sy teenwoordigheid. Dit gaan nie vanself na my toe kom nie.

Ek moet elke oomblik gulsig drink van die Fontein van Lewende Water. Dan kan ek sê, ek ken Hom persoonlik en Hy het my gestuur, want ek was in Sy teenwoordigheid. Ek bid elke oomblik van elke dag dat die uitkoms vinnig sal kom, want dis aanvanklik ’n baie ongemaklike plek – uit my gemaksone. Totaal. Maar omdat ek so diep in Sy hart moet klim (Sy teenwoordigheid moet binnegaan) om te oorleef, raak die plekkie in Sy hart my gemaksone Dis asof ek glad nie daardie plekkie uit Sy hart wil verlaat nie. En die situasie keer om, alles buite Sy hart word my ongemak(sone). Hoe nader ek aan God beweeg, hoe meer moet ek sterf aan myself. Omdat ek in Sy teenwoordigheid vertoef, word ek soos Hy. En om soos Hy te word, moet ek sterf aan myself.

God het ons nie geroep na ’n lewe van gemak nie. Hy het ons geroep na ’n belangrike lewe. En ’n belangrike lewe is nie ’n lewe van gemak nie. ’n Belangrike lewe sien die belangrikheid daarvan om jou lewe weg te gee. Maar jy moet ’n LEWE hê om dit te kan weggee. En daardie lewe kry jy net in Sy teenwoordigheid. In Sy teenwoordigheid kan jy genoeg Genade eet om weg te gee. In Sy teenwoordigheid word jy vol van die Lewende Water sodat ander daarvan kan drink.

Ek gaan weer verby die kerkie ry om my huishulp weg te neem. Môre. Oormôre. En die dag daarna. Maar ek gaan anders kyk na die stukkende kerk. Omdat ek self onvolmaak is en dit my herinner daaraan om Sy teenwoordigheid te vertoef sodat Sy salfolie my barste met liefde kan vul en ek kan oorloop na die ander wat dors is in my lewe. Oorloop met vars, Lewende Fonteinwater. En voor my kerk moet ’n uithangbordjie wees wat sê: Kom almal wat moeg en oorlaai is, kom drink. Kom drink jouself boepensvol aan die Lewende Water.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s